Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS Sondag 20 MEI 2012

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

IN DIE NUUS VANDAG

MEER TYD VIR ZU-LISENSIES

WAT U MOET DOEN AS U NIE U LISENSIE HERNU HET NIE EN U ROEPSEIN VERLOOR HET

NASIONALE AMATEURRADIODAG

AMATEURRADIO OP MARION EILAND

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

MEER TYD VIR ZU-LISENSIES

Die Klas B of ZU-gelisensiëerdes het meer tyd om te leer en hul klas A eksamen te skryf. ICASA het by ‘n gespreksgeleentheid bevestig dat die reël dat diegene wat klas B lisensies het en dit verloor by die bereiking van ouderdom 25, eers toegepas sal word nadat die regstellings aan die regulasies, wat op 31 Maart 2012 publiseer is, gedoen is. Vanaf die datum van afkondiging van die reggestelde Regulasies sal die houers van ZU-lisensies wat ouer is as 25 jaar, twee jaar grasie kry om te kwalifiseer vir die klas A lisensie.

Daar is geen aanduiding wanneer die hersiening van die regulasies publiseer sal word nie. Publikasie word vertraag deur ‘n hangende hofaansoek deur een van die spektrumgebruikers wat ‘n invloed op die regulasies mag hę. ICASA se regsafdeling is van mening dat as hulle die regulasies vir amateurs los van die res sou publiseer, dit die meriete van hulle saak nadelig kan raak.

ALLE SUKSES AAN DIEGENE WAT EKSAMEN SKRYF

Kandidate skryf die klas A eksamen Donderdagaand. Ons hoop dit gaan goed en sien uit daarna om die nuwe roepseine aanstons op die lug te hoor.

HET U NAGELAAT OM U LISENSIE TE HERNU EN TOE U ROEPSEIN VERLOOR?

Die huidige stand van sake is dat as u nie u lisensie hernu het nie, word u roepsein gekanselleer. By ‘n heraansoek vorder ICASA die aansoekfooi en alle agterstallige gelde op die rekening. Dit is nie onderhandelbaar nie tensy u bewys kan lewer dat u inderdaad die lisensie voorheen skriftelik kanselleer het. ‘n Afskrif van die brief word vereis.

Die SARL het die aangeleentheid met ICASA bespreek en ons het verneem dat OKOSA besig is om die proses te hersien. Dit mmag nog ‘n geruime tyd neem. Indien u u lisensie laat verval het, is die enigste uitweg om weer die aansoekfooi en enige agterstallige gelde te betaal.

RADIO ZS IS IN DIE POS

Die Maart – April uitgawe van Radio ZS is gepos en ook beskikbaar vir SARL-lede om vanaf die webblad afgelaai te word. Daar was ‘n vertraging omrede ons van drukker verander het. Die vorige drukker het afgetree en sy besigheid gesluit.

Hierdie uitgawe is gelaai met interessante artikels. Rob Parkinson- ZS1RAP- se artikel oor ‘n maklike kortgolf veldstasie is die lees werd terwyl diegene wat in kleiner komplekse woon, Ean Retief, ZS1PR, se artikel oor Antennas in die Solder van deeltiteleiendomme baie interessant sal vind. Daar is ook ‘n berig oor die Skool vir Blindes in Worcester se nuwe amateurradiostasie, terwyl Hannes Coetzee, ZS6BZP, ‘n berig het oor “The ZS-Diple, a compact efficient, wide band dipole for 40 m and up”. Daar is ook ‘n berig deur Sydney Smith ,ZS1TMJ, oor die buisdae – “The BH-NHS “Rat Trap’ Regenerative Receiver”.

Dennis Green, ZS4BS, se bydrae bring ons op hoogte van “Amateur Radio on the iPad” waarin hy net raak aan sommige van die toepassings wat beskikbaar is vir die iPad, iPhone en iPod.

Dis lekker leesstof.

As u nog nie ‘n lid van die SARL is nie, skakel gerus met Mariska Maandag by 011 675 2393 om van die SARL se spesilae aanbod gebruik te maak in terme waarvan u gratis lidmaatskap vir Mei en Junie kan kry.

U kan ook ‘n afskrif van Radio ZS bekom deur ‘n e-pos te stuur aan artoday@sarl.org.za met die letters RZS in die onderwerpblokkie.

DEEL U TOEWYDING VIR AMATEURRADIO

Deel u toewyding vir amateurradio vir twee spesiale programme wat op Nasionale Amateurradiodag op 16 Junie uitgesaai gaan word. Indien u ‘n ou radioamateur is, sal ons graag u storie wil hoor en opneem vir uitsaai in die program. Al wat u hoef te doen, is om u telefoonnommer (landlyne alleenlik) te stuur aan artoday@sarl.org.za en Hans ,ZS6AKV, sal U skakel en u siening waarom amateurradio 'n besonderse stokperdjie is, opneem.

Die tweede program sal gaan oor hoe jongmense amateurradio ondervind. Indien u onder 25 jaar is, stuur u telefoonbesonderhede aan artoday@sarl.org.za en Hans sal U skakel. Opnames sal eerskomende Donderdagaand gedoen word, dus reageer asb. vandag of môre.

JEUGDAGNAELLOOP.

Die jaarlikse jeugdagnaelloop sal op Saterdag 16 Junie van 10:00 tot 12:00 SAT gehou word. Daar is baie pryse te wen in hierdie 2 uur lange prettige aktiwiteit op 40 m. Radioamateurs word aangemoedig om jongmense uit te nooi om hierdie gebeurtenis te geniet vanuit hulle stasies en hulle praktiese ondervinding te laat opdoen. Die jeugdagnaelloop is deel van die 2012 Nasionale Amateurradiodag. Besoek www.sarl.org.za vir meer besonderhede.

AMATEURRADIO OP MARION EILAND

Rory Meyer, ZS6GRV, is die nuwe radiotegnikus by die basis op Marion-eiland volgens die daaglikse verslae van Daily DX. Dit mag nog 'n tyd in beslag neem voordat Rory gehoor sal word aangesien hy baie besig is met die oorname deur die nuwe span van die ou span. Rory het 'n IC-736 en FL-7000, maar het nog nie 'n ZS8-roepsein nie. Pierre beplan om Rory se QSL-bestuurder te wees.

DIGITALE MODUSSE OP 40 METER

Die SARL het 'n klagte ontvang dat 'n ZS6-radioamateur DominoEx-4 tussen 7 058 en 7 060 kHz bedryf. Stasies wat hierdie modus wil bedryf moet dit tussen 7 040 en 7 050 kHz doen. ESB-bedryf begin by 7 053 kHz.

DAGLIG METEOORSTROOIING IS HIER

Indien u nog nooit BHF-seine d.m.v. meteoorstrooiing gehoor het nie, dan is dit nou die geleentheid om iets daarvan te leer. Beginnende hierdie week, gaan die aarde in die dag deur twee intense meteoorgordels beweeg, die Arietiede en die Zeta Perseiede met uurlikse tempo’s van 54 en 20 respektiewelik. Die eerste stap is om vir deur meteoor verspreide seine te luister vir BHF-bakens op 50 MHz, 70 MHz en selfs op 144 MHz aangesien meteoordeurbarstings gedurende die dag gehoor behoort te word. Sodra bakenseine gehoor word, konsentreer dan op 50,500 MHz ESB vir enige langafstandkontakte wat tot S9 mag haal. Alternatiewelik, monitor ook 70,200 MHz FM. Hierdie toestande sal dwarsdeur Junie tot aan die begin van Julie heers.

DIE SARL ZS4 NAELLOOP

Hierdie is 'n pretaktiwiteit ten einde kontakte tussen Vrystaatse radioamateurs en ander lande in Suider-Afrika aan te moedig. Die naelloop vind plaas tussen 14:00 en 15:00 op Sondag 20 Mei en dit is 'n GG- en foonkompetisie in die 40 meterband.

ZS4-stasies sal 'n RS(T)-verslag en 'n dorpsnaam of afkorting gee terwyl ander stasies 'n RS(T)-verslag en en hulle provinsie of land se afkorting sal gee. Verdien 2 punte vir 'n kontak met 'n ZS4-stasie en een punt vir 'n kontak met enige ander stasie. ZS4-stasies verdien een punt vir 'n QSO met 'n ZS4-stasie en twee punte vir 'n kontak met buite ZS4. Kontakte met die Bloemfontein ARK, ZS4BFN, Vrystaat Radioklub, ZS4B of die Sasolburg ARK, ZS4SRK is 5 punte elk werd; slegs een kontak per stasie is toegelaat.

Logstate moet teen 4 Junie ingestuur wees aan Die Sasolburg ARK, ZS4ARK, Posbus 28194, Sonlandpark 1944 of per e-pos aan riaanzs4pr@gmail.com met 'n kopie aan fwolff@global.co.za.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die son aktiwiteitsvlak gematig is. Daar is heelwat sonvlekke sigbaar en 'n nuwe sonvlek is besig om aan die Weste kant te vorm.

Vir diegene wat hulle eie frekwensies voorspel, is die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week ongeveer 80.

Al die DX-bande van 20 tot 10 m gaan pret wees met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer met 10 m net 'n kortkop agter.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

Vandag is Nasionale Museumdag: Zululand radioamateurs saai uit vanaf Nongqayi Fort.
Die SARL ZS4-naelloop
28 Mei - Logstate vir die AWA Buis QSO-party moet in wees na andyzs6ady@vodamail.co.za of stuur dit na AWA of Southern Africa, Posbus 12320, Benoryn, 1504.
4 Junie – Logstate vir die ZS4-naelloop moet in wees na Die Sasolburg ARK, ZS4ARK, Posbus 28194, Sonlandpark 1944 of per e-pos aan riaanzs4pr@gmail.com met 'n kopie aan fwolff@global.co.za.
16 Junie - Nasionale Amateurradiodag 09:00 tot 16:00 en Jeugdagnaelloop 10:00 tot 12:00 SAT.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7082, 7205 en 17 570KHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoekwww.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio TODAY', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 17:30 UTC op 3 230 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Johann, ZU1JM, en geredigeer deur George, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003